Renostermaan tydens Vrouemaand – Augustus 2018

posted in: renostermaan | 0

Wat ‘n ongelooglike ervaring om deel te wees van iets wat so groot impak op jou siel kan laat. ‘n Vriendin van my het my voorheen vertel van hulle ongelooflike ervaring tydens ‘n Renostermaan dat ek nie twee keer daaroor gedink het om te gaan toe sy my uitgenooi het na die Augustus Vrouemaan Renostermaan (wat ‘n mondvol, maar so lekker omskrywing).
Ek, Jeanté (my dogter), Melanie (my sussie), Anneline (my vriendin) en Marné (haar dogter) het vroegoggend die pad gevat, gepak, net soos ons vrouens dit kan doen – gereed vir ‘n wonderlike avontuur. Anneline het voor die naweek aan ons genoem dat Tersia vir ons ‘n verrassing het en ons haar in Warmbad moet ontmoet. Daar aangekom ontmoet ons vlugtig vir Tersia, die dame met ‘n groot passie en dryf vir die beskerming van die renosters in Suid-Afrika. Groot was my verrassing om te sien hoe jonk hierdie dinamiese dame is. Eers toe ons aftrek langs die pad na ons bestemming en Tersia dit baie duidelik stel dat ons die GPS op ons fone moet afskakel, begin mens so gevoelentheid kry van ‘n ander wêreld waarin ons beweeg, ‘n wëreld van geheimhouding, van beskerming en so bietjie van gevaar. Terug in die kar en ons is weer oppad.
Was dit nie ‘n groot verrassing nie, vir my, ‘n lewens veranderde verrassing. DIt is altyd wonderlike om in natuurreservate rond te ry en renosters te sien vanuit jou voertuig se venster, maar hier het ek ‘n meter weg gestaan van ongelooflike mooi diere. Watter ‘n groter voorreg was dit ook nie om een of twee te vryf nie. Kon nie help om te lag, as jy hulle so by die agterkant van hulle magie vryf, so by die binnekant van die been lyk dit of hulle agterste suspensie sak van lekkterte. Tersia het vandag vir Rhino Pride 10 sakke melk gebring vir die kleintjies op die plek. Ek het gedink, tien sake wow, dit sal seker baie help, maar groot was my skok om te hoor dat dit hulle slegs 3 weke gaan hou. Nou 10 sakke x R1 000 per sak is baie, hoeveel meer moet daar aangekoop word om hierdie mense te help? Iets om oor na te dink….
Terug in die voertuie na die lekker verrassing, o ja, dit het ‘n lekker stukkie hardloop ingesluit nadat die groter renoster besluit het dit sal ok wees om ons so bietjie te jaag. Ons ouer dames het dit nog, ons kon wegkom. Ons is nou oppad na ‘n geheime plaas, waar groot avontuur op ons wag.
Het jy al by ‘n plek aangekom en is jy verwelkom soos familie? Wel dit het so gevoel toe ons by Marius en Heleen aangekom het. Ons is verwelkom met ‘n lekker verfrissende drankie en die mooiste uitsig voor ons. Vinnig is ons in kamers ingedeel, tasse neergesit en nader geroep vir ons eerste praatjie oor Rhino Connect en Renostermaan. Tersia het vir ons ‘n praatjie gegee oor dit wat werklik in die land aangaan, asook in die wêreld rakende die statistieke oor renosters, die stroping van renosters en die werklike domheid van die mens. My hart het gebreuk om te hoor van die stropings wat plaasvind, van die absolute wreedheid van die mens en ook die magteloosheid. Tog was dit inspirerend gewees om te hoor van die suksesse ook, alles wat Tersia en haar span al reeds reg gekry het en daar lê ons hoop. In mense met ‘n brandende passie wat alles sal doen om hierdie wonderlike diere te beskerm. Marius het ook vir ons ‘n vinnige uitleg gegee van die plaas, hoe hulle stropings probeer bekamp, wat al op hulle plaas gebeur het. Mens kan die emosie in sy stem hoor, veral toe ons hoor dat ‘n koei nie solank terug doodgeskiet is en gestroop is nie, hoe hulle moes sukkel om haar kalfie te vang en die skokkende besef dat een van die bulle ook gewond was.
Teen laat middag kry ons die geleentheid om die plaas verder te verken. Nog ‘n bederfie het op ons gewag, ‘n lekker “sundowner” op ‘n koppie met die plaas se vlaktes voor ons uitgesprei en die son wat oranje sak in die weste. Groot was ons opgewondenheid toe ons van hulle olifante in die verte kon sien rond skoffel in die grond. Hierdie dag was sovêr net ongelooflik gewees.
Na ‘n vervullende en lekker aandete en die maan wat sy kop so uitsteek oor die Boma se dak is dit weer terug in die voertuig vir die aand se patrollie. Dit is wat Renostermaan so uniek maak, jy is daar om alles te bewonder, baie te leer, maar die groot ding is, ons almal se teenwoordigheid kan ‘n moontlike beplande stroping stop. Met die dat gewone mense soos ons op die plaas kom tydens volmaan veroorsaak dit meer beweging op die plaas, kan ons beplande roetes van die stropers ondermyn wat hulle hopelik twee keer sal laat dink om daardie naweek ‘n renoster te moor. Soos Tersia en Anneline verduidelik het is die patrollies meeste van die tyd per voet en in verskeie groepe, maar hierdie naweek doen ons dit per voertuig en die rede – Olifante. Met helder ligte bespied ons die veld in die nag, bokke, ‘n aardvark (wat ‘n ongelooflik oomblik) nagapies in die bome en nog talle meer. Teen 23:30 is ons terug by ons kamers, moeg, maar tog vol energie van alles wat ons die aand gesien het. Na ‘n vinnige koffie is ons almal in die bed en nie lank daarna in droomland.
Die volgende oggend na ‘n vinnige ontbyt is ons weer in die veld, vandag gaan ons leer van spore. Michael en Christoff wys ons hoe om te onderskei tussen ‘n bok se spoor en ‘n moontlike stroper. Kameelspore is aan ons uitgewys, renosterspore, verskeie bokke se spore, selfs bobbejaan spore is aan ons gewys. Dan kry ons die roep oor die radio, daar is spore wat verdag lyk. Die manne moet kom en kom kyk. Die pad raak rof soos hulle jaag om tot by die spore te kom. Die vrees wat deur ons hardloop met die een vraag – is daar vandag moeilikheid op die plaas? Mens raak lam om te dink dat daar moontlike stropers op die plaas is, ons is onseker of hulle gewapen is en wonder waarheen is hulle oppad. Het hulle al ‘n renoster gestroop, is hulle besig om die renosters te bekruip met die doel om te stroop en waar begin mens soek – hierdie plaas is GROOT.
Marius kom aangejaag met van sy werkers en spoorsnyers, hulle spring van die voertuig af en twee word in ‘n rigitng gejaag met die opdrag hardloop en die spoor te volg. Marius wys vir ons die spore en hoe mens kan onderskei of dit bok of ‘n mens se spoor is. Glo my die stropers is slim, hulle draai doeke of sakke om hulle voete om enige uitkenbare merke te verbloem. Dan kan hulle ook vir die olimpiese span kwalifiseer met die afstand wat hulle kan spring met elke tree, net om hulle spore te verbloem. Marius verduidelik vir ons hoe hulle te werk gaan om die stropers vas te trek, almal terug in die voertuie en ons jaag in die paaie af. Ons dames klou aan die kante van die voertuig en hoop en bid net dat alles ok sal gaan. By die volgende stop tel ons die manne op en die volgende twee spring af en volg die spore en ons is weer deel van die jaagtog. Die adrenalien vloei en jy weet nie of jy vrees bevange moet wees of opgewonde moet wees oor wat besig is om te gebeur nie. Dalk nie, dit het erge gevolge vir die plaaseienaars, maar ai dit is wonderlik om deel te wees van ‘n span wat besig is om ‘n groep te jaag wat soveel verwoesting saai met hulle gierigheid. Die woorde en moontlike scenarios wat geskep word deur die vrouens op die voertuig hou ernstige gevolge vir die stropers in – klink my ons vrouens kan nogal ‘n agressiewe streep in ons hê as mense wreedaardige dinge doen met onskuldige diere. Hulle roep op die radio, hulle het twee manne vasgekeer teen die dam, hulle kruip weg in die bosse. Die petrolpedaal word diep getrap, hande gryp stywer vas aan die sitplek voor jou en jou hartklop is oordonderend in jou ore. Ons kyk met sulke groot oë na mekaar – wat nou? Stadig maar seker tel ek op, Heleen is baie rustig, die feit dat sy en haar seun saam met ons is laat my wonder. Marius het dit baie duidelik gestel, sy vrou en kinders is nooit betrokke by enige gebeure waar moontlike stropers op die plaas is. Verder is Tersia ook te rustig, ‘n mens met soveel passie sou al lankal haar “cool” verloor het. Die res van die werkers spring uit toe ons by die dam kom en begin in die bosse in te beweeg en kom met 2 “stropers” uit die bos. Ons besef toe met al die gelag tussen die werkers en Marius, Heleen, Machael en Christoff dat hierdie slegs ‘n simulasie was en ons almal sug van verligting. My hartklop raak rustiger en ons kon nie help om almal lekker te lag nie. Ek dink ons dames het meer gegiggel van verligting. Maar dit was ‘n goeie leerskool vir ons, dit is hoe die eienaars alles probeer om hulle geliefde diere te beskerm. Net so ook het die mense wat daar werk net soveel liefde en passie vir die diere wat hulle so moet monitor en beskerm. Hierdie is ‘n gedugte span wat lekker saamwerk en baie baie fiks is.
Na hierdie adrienalien pompende oefening is ons eers terug vir lekker verversings, ietsie om die senuwees te kalmeer en ‘n rukkie se rus. Na so uur en ‘n half word ons uitgenooi om so bietjie vuurwapens te hanteer. Ons elkeen het die geleentheid gekry om 3 verskillende wapens te hanteer. Wat ‘n ondervinding, ek is gewoond aan ‘n handwapen, maar hierdie wat ‘n ander klas. Arme Marius, ek het nie gedink dat hy het besef hoe uitdagend en bevredigend ons vrouens hierdie oefening sou ervaar nie. Kort-kort kom daar nog ‘n uitroep van “Kan ek weer skiet? Sjoe dit is lekker, kan ek nog enetjie skiet?” Marius was baie geduldig met ons en Michael baie hulpvaardig om ons te help met die verduideliking van die vashou van die wapen, die oorlaai van die wapen. Dit het nogal ‘n impak by ons gemaak.
Na al die senuwees bedaar het gaan ons na ons volgende oefening – hoe goed is jou observasie vaardighede? Tersia, Marius, Heleen en Nadia verdwyn in ‘n rigting om die area te gaan opstel. Michael en Christoff skep vir ons ‘n scenario oppad om te sien hoe goed ons die dinge om ons raaksien. Nie te sleg gedoen nie, die stukkie tinfoelie het ons egter gekortwiek. Vir ons stadmense is dit gewone rommel, maar op ‘n plaas is dit moontlike tekens van stropers. Hulle gebruik dit om die gestroopte horings in toe te draai, want hulle glo dat dit enige seine van ‘n “chip implant” kan verbloem. Dan wag ons en een vir een word ons geroep na ‘n area waar ons dinge wat nie pas in die area moet identifiseer – 11 items in totaal. Ons word egter gewaarsku, maak jou reg die area mag vir jou ‘n skok inhou. Met groot huiwering staan ek nader en groot was my skok, voor my lê die karkas van die koei wat hulle so ruk terug geskiet en gestroop het. Dit ruk mens se hart, dit ruk aan jou siel as jy dit sien. Die woede borrel op om te dink dat êrens in die wêreld sit iemand met hierdie pragtige dier se horing met die simpel eenvoudige gedagte dat dit medisinale waarde het of spog een of ander persoon oor die feit dat hy ‘n teekoppie besit van renosterhoring wat sy status blykbaar kan verhoog. ‘n Mens begin besef hoe siek ons samelewing daarbuite is, die persoon wat uit gierigheid onskuldige diere wreedaardig sal vermoor om sy horing te verkry en mense wat dink dit is ‘n statusimbool om iets te besit wat uit renosterhoring gemaak is, ongeag die feit dat dit die renoster se kans om oorlewing drasties verlaag. Hierdie was ‘n “wake-up call” vir ons almal en tog ‘n aansporing om betrokke te raak waar ons kan.
Daardie laat middag met die son wat koelrond en donker oranje teen die donker blou skemer horison lê het ons vaarwel gesê aan hierdie koei. Het ons ons oë opwaarts gewend en God se hand van beskerming oor hierdie plaas, sy mense en diere afgebid en Sy seën gevra vir hierdie mense wat met soveel passie Sy skepping beskerm. Niemand het onaangetas daar weggeloop nie.
Aandete was ‘n lekker hoenderpotjie deur Nadia en Tersia en ‘n rustig kuier om die vuur. Met die roep van: “Is julle reg vir patrollie?” is ons almal weer terug in die voertuig en gereed vir nog ‘n aand van patrollie. Vanaand is volmaan en die maan lê groot en swaar in die sterrelig bo ons. Het jy al ooit gewonder wat ‘n volmaan doen in die veld? Almal sê dit maak alles duideliker vir die stropers tydens volmaan en mens wonder hoe? Tot Michael die voertuig stop en ons die geleentheid gee om laataand in die veld te loop tydens volmaan. Dit lyk soos daglig met ‘n skakering van grys. Het jy al ooit gedink dat jy ‘n skaduwee sal maak in die aand in ‘n veld? Ek het dit nooit gedink nie, maar ek het dit duidelik gesien die aand. Alles is duidelik sigbaar, jy sien duidelik die bome, bosse, takke, blare, gras, spore in die veld – daglig met ‘n skakering van grys. Ek kan verstaan hoekom volmaan so belangrike en moeilike tyd vir eienaars is, stropers het nie flitse nodig om te kan sien in die nag nie, hulle hoef nie vure te maak nie, alles wat hulle kan weggee in die veld is nie nodig nie, want daar is niks wat hulle visie kan belemmer nie. Ons is weer laataand na nog ‘n interessant patrollie terug, weer ‘n vinnige koffie en in die bed.
Die aand besef ek met groot hartseer my naweek is amper verby, maar die vreugde om deel te wees van ‘n geleentheid wat so ‘n onvergeetlike impak op my lewe het, verruil ek vir geen skatte in die wêreld nie. Hierdie naweek het ons wonderlike vriende gemaak, mense se absolute passie vir die veld en diere beleef en as familie uitmekaar gegaan.
Ek besef die absolute waarde wat Renostermaan naweke vir hierdie eienaars kan beteken en ek hoop dat deur Rhino Connect baie mense hierdie wonderlike geleenheid sal ervaar en dat ons saam die voorbehoud van die Wit en Swart Renoster in hierdie land kan verseker. Ek kan nie wag vir my volgende Renostermaan nie en weet dat hierdie definitief deel van ons gesin se jaarlikse ervarings sal word.